Europese windstorm

'n Geval van uiters vinnige siklogenesis (bron: EUMETSAT)

'n Europese windstorm is 'n magtige sikloniese storm of orkaan, wat gedurende die wintermaande van die Noordelike Halfrond oor die Noord-Atlantiese Oseaan in die rigting van Noordwes-Europa beweeg.

Gewoonlik word veral die gebiede tussen die noordkus van Skotland en Noorweë deur hierdie soort storms geraak, maar hulle draai soms ook in suidelike rigting en berokken sodoende ook skade in gebiede soos Ierland, Wallis, Engeland, Frankryk, België, Nederland, Duitsland, Switserland, Swede, Litaue, Letland en Pole.

Aangesien hierdie windstorms orkaansterkte kan bereik, word hulle soms ook orkane genoem, ongeag die feit dat slegs min van hierdie storms as tropiese siklone ontstaan. Orkan is egter byvoorbeeld die gewone Duitse term vir 'n magtige windstorm.

Europese windstorms het in die tydperk tussen 1990 en 1998 jaarliks 'n skade van sowat 1,9 miljard € (17,7 miljard ZAR) berokken, terwyl assuransies jaarliks 1,4 miljard € (13,05 miljard ZAR) se skadevergoedings betaal het. Dit maak van Europese windstorms die tweede duurste natuurrampe na tropiese siklone in die Verenigde State.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search